gkheidelberglogo

Gebeure FacebookIcon

Bydraes met fotos sal verwelkom word van enigeen by nuus@gkheidelberg.co.za.
Boeredag-en-ontbyt 2 Maart 2019

Hierdie jaar se eerste Boeredag-en-ontbyt is gehou op Saterdag 2 Maart op ons kerkterrein. Talle voorbereidings is reeds die vorige dag getref met vele hande om te help – van tent opslaan tot vrugte sny en tafels uitpak. Vroeg die Saterdagoggend is die laaste dingetjies gereed gemaak om die meer as 200 ontbytgaste te verwelkom en te vermaak.

Die ontbyt was weereens ‘n wenner gewees met Ds. Faan se tuisgemaakte jogurt, vrugte en muesli as voorgereg, spek en roereiers, maalvleis, wors, pap en sous asook brood vir hoofgereg, en daarmee saam natuurlik heerlike koffie en vrugtesap. Die kerksaal was volgepak en mooi betooi met vetplantjies uit die lidmate se eie tuine.

Daar was ook weer talle stalletjies waar die gaste ietsie kon koop: bevrore groente, vars groente, pannekoek, jogurt, koeldrank, negosie winkel, 2e handse boeke, vetplante, handwerkgoedjies, kussinggeveg, en gesigverf. Sommiges van ons het nie ‘n oomblik stilgesit nie! Die kussinggeveg was behoorlik vet pret met selfs die getroude paartjies wat mekaar beetgekry het. Die klein kinders het na Wietske gestroom om hul gesiggies te laat verf met vlinders, dolfyne en blommetjies – selfs die seuns het ‘n draai by haar gemaak!

Dit was weereens ‘n heerlike en gesellige dag gewees met almal wat saamgewerk het om die dag ‘n sukses te maak. So het ons ook mekaar beter kon leer ken terwyl ons sy-aan-sy gewerskaf het. Dankie aan elke lidmaat en besoeker wat die dag moontlik gemaak het en ons kom ondersteun het. Ons sien baie uit na die volgende Boeredag DV later die jaar.